Fanus Rautenbach was lief vir die uitdrukking: Vandag is die eerste dag van die res van jou lewe. En dit is presies wat vandag is: ‘n nuwe dag vol geleenthede en uitdagings. Elke nuwe dag is spesiaal, die probleem is net ons word so gewoond aan elke dag. Ons aanvaar dit as vanselfsprekend, maar dis nie noodwendig so nie, want vandag kan ook die laaste dag van jou lewe wees. Dis nie ‘n bangmaak storie nie, dis soos die lewe is.
As jy vanoggend sou weet: Vandag is die laaste dag van jou lewe. Wat sou jy anders doen?. Hulle het hierdie vraag eeue gelede vir die kerkhervormer Martin Luther gevra: Wat sal jy doen as jy weet vandag is die laaste dag van jou lewe? Martin Luther se antwoord: As vandag die laaste dag van my lewe is, dan sal ek vandag ‘n boom plant.
Wat bedoel Martin Luther met sy antwoord? Almal leef in God se wêreld, maar nie almal wat leef ken die God van hierdie wêreld nie. Elkeen wat die God van hierdie wêreld ken, leef anders. Gelowiges weet dat God die koning is en dat Hy ‘n plan het met Sy wêreld. Dit is God se plan dat Hy mense soos jy gebruik om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak.
In Kol 3: 23 lees ons hoe gelowiges elke dag behoort te lewe.
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie. Christus is die Here in wie se diens julle staan.”
Hierdie opdrag is oorspronklik gegee aan gelowige slawe wat lidmate was van die kerk in Kolossense. Die slawe van destyds, maar ook alle gelowiges deur die eeue moet weet: Ek werk nie om ‘n baas tevrede te stel nie, nee, as ek ‘n gelowige is, is ek vir my lewe en my werk verantwoordelik teenoor die Here. Elkeen van ons het gawes van die Here ontvang en daarmee moet ons van die wêreld ‘n beter plek maak. As jy iemand is wat glo in Jesus Christus moet jy onthou, jy werk nie vir ‘n baas nie, maar jy is ook nie jou eie baas nie.
Die vraag is: hoe sal ‘n gelowige se werk anders wees as iemand wat nie glo? Is elkeen se werk nie maar dieselfde nie? Mens sal sê: ‘n onderwyser is ‘n onderwyser, ‘n ambagsman is ‘n ambagsman, ‘n baas is ‘n baas, as elkeen hulle werk goed doen is daar nie enige verskil tussen gelowige en ongelowiges nie. Dis waar, werk is werk, maar daar is een toets wat die verskil behoort uit te wys. Waar gelowiges werk moet die vrug van die Heilige Gees elke dag in hulle werk sigbaar wees. In Gal 6:22 lees ons : “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en selfbeheersing. Ons lewe deur die gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
Dit maak nie saak of vandag die eerste dag van die res van jou lewe is nie en of dit die laaste dag van jou lewe is nie. Vandag en elke dag kry jy die geleentheid om te werk met liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en selfbeheersing. Onthou : Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here nie vir mense nie. Christus is die Here in wie se diens julle staan.