|
Die televisie is vol prentjies van mense wat die lewe geniet: massas met vuvuzelas op die strate van Suid Afrika, baie mense wat die tennis op Wimbledon volg en dan is daar ook nog ‘n week vol sonskyn wat vir Engeland voorspel word. Oral is daar mense wat besig is om die lewe voluit te leef en te geniet.
Maar ter selfder tyd bevestig die noodbegroting dat elkeen in Engeland in die dae wat kom die ekstra knyp van die finansiële skoen gaan voel. Dit is so: Die lewe is nie net maklik nie. Elke huis het sy kruis. Elkeen van ons het ons eie storie van ons eie seer en swaar waarmee ons moet saamleef.
Hoe lyk die glas van jou lewe vandag: half leeg of half vol?
‘n Gelowige weet elke dag is ‘n geskenk wat jy uit die hand van die Here ontvang het. In die woorde van Koos du Plessis : “Wat ek is is net genade, wat ek het is net geleen.”
Die Prediker het gesê:
“Elke ding het sy vaste tyd..
Daar is ‘n tyd om te huil,
‘n tyd om te lag,
‘n tyd om te treur,
‘n tyd om van blydskap te dans...
God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd,
maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd.”
Prediker 3:1-11
Geen mens behoort net vir hom/haarself te leef nie. God het jou gemaak sodat jy die lewe kan geniet op so ‘n manier dat jy ook ander mense se lewens kan verryk.
Toets jouself: wat het jy vandag gedoen sodat iemand anders vanaand kan gaan slaap as ‘n gelukkiger mens? Wat beplan jy vir môre?
Vra vir die Here wat Hy wil hê dat jy moet. Moenie langer uit stel nie, leef die een lewe wat jy van Hom ontvang het voluit. “Just do it!”
|