Ons storie
Wat ons doen, waar ons dit doen en hoe...

Baie welkom by die Middellande Wyk, die jongste wyksgemeente van die SA Gemeente. In September 2005 het die Middellande Wyk amptelik van Noordwyk “afgestig” en in sy huidige formaat afgeskop. Die ontstaan van Middellande Wyk was die natuurlike uitvloeisel van die groeimodel van die SA Gemeente, waarin SA Gemeente dit as hulle doelwit stel om Suid-Afrikaners in die VK te bedien.
Soos ons naam aandui bedien ons die wyer Engelse Middellande, rofweg binne ’n radius wat strek van Bristol en Oxford in die suide na Leicester en Petersborough in die ooste, Leeds en Manchester in die noorde en Telford en Worcester in die weste. Die wyd-verspreidheid van hierdie area verplig ons om baie sterk in selgroepe te werk en ons poog om op soveel as moontlik plekke selgroepe te vestig. Hierdie selgroepe vorm die hartklop van ons gemeente.
Middellande Wyk sien sy getuienis verantwoordelikheid in lyn met die opdrag in Hand 1:8, in die eerste plek teenoor mede-Suid-Afrikaners wat in die Middellande woon (Jerusalem), op ‘n tweede vlak teenoor Suid-Afrikaners wat nog nie deur SAG bedien word nie (Judea), op ‘n derde vlak teenoor alle mense van alle tale en kulture in die plaaslike gemeenskap waarin hulle betrokke is, woon en werk (Samaria), en op ‘n volgende vlak neem Middellande ten volle verantwoordelikheid vir uitreike van die SA Gemeente (uithoeke van die wêreld).
Die bly ons strewe om op ‘n egte en deurleefde wyse die Here te dien en elke mens die geleentheid te bied om in sy/haar verhouding met die Here te groei. Ons glo dat ons teenwoordigheid in die VK unieke uitdagings aan ons stel, maar dat die Here ook hiermee ‘n besondere plan met elkeen van ons het.
Die veranderinge in die groter SA Gemeente sedert die middel van 2009 het daartoe bygedra dat Middellande Wyk deel raak van 'n groter Noordwyk. Ds Christo Benadé is die predikant wat van Mei 2010 die leierskap in Middellande oorneem.
|